August 2011

Afhan-KLIK

11:15 30 August in Rym
2 Comments

Afhanklikheid is ‘n snaakse ding

(soos suurstof dikwels weggesteek)

met die krag om ons tot dood te dwing

as dit sou verdwyn of wou ontbreek

 

Ek’s afhanklik van my hartklop

afhanklik van my asem

waarsonder ek oombliklik

terug sal keer tot wasem

 

Eks afhanklik van U woorde

afhanklik van U stem

waarsonder ek onmoontlik

die waarheid kan leer ken

 

Afhanklik is groter as weet jy is

afhanklik is deurgeweef

dis die hartklop kind van elke dag

wat ek, of jy, sal leef.

Maanlig mannewales

18:40 03 August in Weeskinders
2 Comments

Dis Saterdagaand, dis donker, en ek bevind myself in ‘n vreemde tuin met ‘n vreemde man. Ons maatskappy hou konferensie by Lanzerac hotel, en ek’s op soek na die kelder waar die res van my kollegas sit en wynproe. Een van die personeel, Andries, stap voor en help my om die kronkelpaadjies en snaakse draadjies van die gronde baas te raak.

Dis onbekende terrein vir my, maar Andries stap selfversekerd voor in die donker. Ek bly op sy hakke en die maanlig skyn net net helder genoeg sodat ek hom nie uit sig verloor nie. Skielik kom ons tot stilstand voor ‘n steil trap. Hy beduie na links, en sê dat ons om moet stap. Ek is haastig om by my mense uit te kom, gee die trap met sy  mos−lagie een kyk en besluit dadelik dat dit glad nie so ver af is nie.  “Nee wat, ek’s ‘n plaasmeisie” antwoord ek hom, dink by myself hoe pateties die stadsmeisies is wat skrik vir steil trappe, en spring af voordat hy kans kry om ‘n woord verder te sê.

My voete het perfek geland waar ek geweet het hulle sou, en my lyf het perfek gebalanseer nes ek beplan het. Geen probleem. Die enigste klein probleempie was die feit dat dit toe nie ‘n trap vol mos was nie, maar die platgesnoeide bokant van ‘n boom.

Die selfversekerde plaasmeisie het neergeneuk, haar wind uitgeval, en wonder bo wonder haar tande ingehou. Arme Andries was binne oomblikke by om my op te help, en selfs die swak maanlig kon nie die absolute ongeloof in sy oë wegsteek nie. Die vrou het wragtag van ‘n afgrond af op ‘n boom afgespring en gedink sy sou nie seerkry nie!

Ek sê gereeld vir my vriende dat my lewe soos ‘n “movie” is, en wanneer ek dinge soos dié aanvang is dit soveel makliker vir hulle om te verstaan wat ek bedoel.En net ingeval jy gedink het mens kan niks leer uit hierdie storie nie, hier’s die deeltjies wat my bybly uit die hele verhaal:

EEN: daar is nie pille vir domgeid nie.

TWEE: dinge is nie altyd soos dit lyk nie.

DRIE: gee mense naby aan jou kans om insette te lewer voordat jy jou planne uitvoer, al is jy hoe oortuig dat jy weet wat jy doen, en jy op jou voete sal land.

En volgende keer as jy wynproe by Lanzerac, kyk tog of Andries aan diens is, en hoor of hy dalk enige lewenswyshede het om te deel? Ek twyfel of hy groot gedagtes gaan hê oor persepsies of besluitneming, maar ek het ‘n vreemde vermoede dat hy dalk ‘n opinie of twee sal hê oor plaasmeisies op maanligaande, in leer “boots” en baadjies.