December 2013

Van raakvat

16:11 05 December in Weeskinders
3 Comments

Dit was die moeilikste van tye.Ek was raadop,desperaat, en moeg. Tot in my murg in moeg. Ek het my oë toegemaak, die wêreld en sy wurggreep vir ‘n oomblik weggesluit, en in my hart na God se stem en plan gesoek.

Die volgende prentjie ontvou toe in my geestesoog:

Ek het aan ‘n tak gehang, letterlik. ‘n Dwars tak oor die rant van ‘n groot, leë, bodemlose afgrond. Die vrees in my asem en oë , en die brand in my keel en hart het bevestig dat ek in gevaar was. Lewensgevaar. My lyf het loodswaar van my vingerpunte afgehang, en my bene het geskop en smeek vir die gevoel van veiligheid.Vaste grond. Na ‘n verbete poging het my armspiere moed begin opgee en in steekpyn spasmas hul verraaier status bevestig. Die einde was naby.Onvermydelik so,maar steeds het ek instinktief bly klou. Met elke liewe greintjie van my oorlewingsdrang en menswees. “Here. Asseblief. Help!”

En toe sien ek dit raak.’n Massiewe swart albastervormige voorwerp direk voor my. Groter as ‘n berg, en baie groter as my verstaan. Dit was blink en diep en lewendig, en ek het gehipnotiseerd bly kyk en kyk sonder om te besef wat ek sien. Die prentjie het bly oopvou, en skielik het die wonderlike waarheid my in die maag geskop.

Ek het nie aan ‘n boom gehang nie, maar aan ‘n wimper.God s’n! Die tak waaraan ek so verbete vasgeklou het was toe heeltyd een van Sy wimpers, en die groot donker massa voor my was die pupil van Sy oog. Ek het gedink ek’s in doodsgevaar, maar ek was verkeerd. Wonderlik, onmoontlik,wie-sou-ooit-in-die wildste-kon-raai,verkeerd! Selfs in my diepste,donkerste oomblik van desperaatheid was ek heeltyd veilig. Baie klein in die oog van ‘n baie bewusste,baie betrokke God.Hy was té groot, en té goed, om my ooit uit sig uit te verloor. Ek was veilig.

Vrygemaak deur my vars stuk verstaan het ek my verligte vingers oopgevou.My lyf het deur die lug geval en swaartekrag het my dringend en aanhoudend af bly trek. Maar, wat enkele oomblikke terug nog ‘n doodsvonnis was,was nou ‘n heerlike, vrywillige, vryval avontuur.

God het Sy oopgevoude palm onder my ingeskuif en ek het veilig in die voue van Sy hand geland.Hy’t my opgelig tot ooghoogte en geglimlag soos wat die son Hom nie sou kon nadoen nie. Elke stukkie donker was weg.Op die horison en in my hart.

Dis al meer as 6 jaar later, maar dié spesifieke prentjie is diep in my binnekant ingebrand,en kom klop nog gereeld aan nuwe donker en desperate deure.

Ek bly ‘n boomkind
wimperhanger
God is my veilig
raakvatvanger.