Nuweling
Die Nuutmaker
het my beetgekry
opgesaal
en fiks gery
ingeskryf
vir ‘n uithourit
en ‘n vlegsel in
my nek gesit
want die Nuutmaker
maak alles nuut
die Nuutmaker
maak mooi
die Nuutmaker
kan meer hanteer
as ‘n mensehand se plooi
die Nuutmaker
se oog sien skerp
die Nuutmaker
lag breed
oor die dieptes van
my binneman
wat hy nog uit gaan meet
Die Nuutmaker
het my goed gery
die heuwels en
die hel verby
tot ‘n blink salpeter
uitslaansweet
my ware kleure
uit sou meet
ek buig
en buig
voor Sy werke
ek buig
en buig
want ek’s klein
sien:
die Nuutmaker
het ‘n perd gekerf
toe ek
nog hond was
op my werf.