07:43 28 November
in
Weeskinders
As ek woorde gehad het sou ek hulle versigtig optel en in my hande toevou.
Ek sou op sagte tone stap, my asem effens ophou, en stadig beweeg. Ek sou ‘n skrefie in my hande moes oophou om seker te maak hulle kry genoeg asem, en ek sou hulle fyn fyn dophou. Die op…en af…en op…en af van hulle kleinlyfie asems. Hulle oop bekkies. Rustig, veilig en vol vertroue in my hande.
Ek sou hulle tot by die voet van jou bed dra, en eers ‘n rukkie stilstaan om jou slaaplyf en skouers so diep as moontlik in te asem. Dan sou ek my woorde sag-sag-saggies by jou in die bed tel, en die komberse regtrek sodat julle almal warm en gemaklik verder kon slaap.
Die kleintjies sou instinktief teen jou lyf nessie, en hul vlerkies snoesig opdons teen die hitte van jou vel. Soos wat kinders graag doen.
Ek sou julle almal vir een laaste sagte oomblik met die arms van my oë vasdruk,en dan sou ek omdraai. En ek sou wegstap.
Want as ek sou omkyk sou ek dalk sien hoe jy omrol. En my woorde, my kleinstes, my kinders doodlê.
Sommer so in jou slaap.
As ek woorde gehad het…