April 2015

Slak

14:27 30 April in Rym
1 Comment

Ingedop
kom jy aangesleep
tuin terroris met jou silwer sweep
uitpeuloë op ‘n draadloos steel
jou slymlyf glibstip spoor
glim bultend randend klippend sandend
groot gebergtes oor

so stadig
seker
stil
sekuur
die sleepwerk van jou etensuur
is haas onmoontlik imposant
jou wondervraat
jou watertand!

*met dank aan Ru vir die inspirasie.

Tydsberekening

22:11 27 April in Rym
1 Comment

Die ploeg staan reg om die grond te skeur
die veld is vasgebak
maar die reën hou terug met sy nat, sy neer
laat die oopbreek stadig, swak

Die vosperd wag gedweë, gereed
om sy sweet al slepend uit te meet
maar die plaasboer kén die regte tyd
sit nog ‘n dag geduldig uit

En die werkers raak onrustig
want die saad moet spoedig in
daar’s ‘n tyd vir wag vir beter
en ‘n tyd om te begin

en die ploeg staan reg
en die reën hou terug
en die boer kyk op
en die werkers sug
want die perd staan rond
op harde grond
en die saad lê stil
teen die hand se wil

Sien:
gereënde grond is beter
maar geleende tyd raak op
is die toegeverfde uurglas
versadig
of verstop?

Gevallestudie 1: trots

11:47 03 April in Rym
1 Comment

Die trots het op ‘n Maandag
op sy bobeen uitgeslaan
(dit was heeltemal te min
om dokter toe te gaan)

die trots het teen die Dinsdag
van sy nek tot toon versprei
(dit was definitief te vlak
om ‘n voorskrif te moes kry)

teen Woensdag het die trots
in sere uitgeblom
(hy was absoluut oortuig
dit sou vinnig gaan, en kom)

teen Vrydag middag eenuur
het sy lyf in koors gestraal
(dit was darem net onnodig
om ‘n ambulans te haal)

Saterdag was moeilik
sy tong het ophou werk
die aanslag van verwoesting
in stilte kom versterk

om Sondag middag vyfuur
het die trots sy lot beklink
“ek het heeltyd hulp gekort”
het hy veels te laat gedink.