Leeg
Soms
is daar woorde,
maar ander kere is selfs die tydelike troos van ‘n woordkombers
my nie beskore nie
soos nou
met jou:
Tien jaar terug het ons gesit en gesels,
gedagtes gedeel oor jou ma
en die boosheid wat sy in haar bloed ronddra.
Jy was vol selfvertroue dat jy beter keuses sou maak,
oorgehaal om jou kinders te sien grootword,
uitgesproke dat jy nie ook op ‘n vroeë oudag jou sien,
en jouself
glas vir glas sou uitskink nie.
Soms
is gesprekke genoeg,
maar ander kere is selfs die sterkste voornemens
nie voldoende assuransie teen later se skewe besluite nie.
Gisteraand het ek op jou hospitaalbed gesit
jou kop gevryf,
en bolangs gebid
dat jou seuns nie dieselfde storie sou skryf nie,
sou deel aan die kiem van kwaad in jou lyf nie.
Want soms
is medisyne genoeg,
maar ander kere skiet selfs die skerpste naald te kort
om ‘n laaste lewensflits raak te steek
die drif en die drang van die dood te breek
soos nou
in jou.