August 2015

Verfklas

09:58 29 August in Rym
1 Comment

Picasso het gesê:

“Dit neem lank om jonk te word”

ek vermoed hy het verstaan

dat vryheid

tyd

sou kort

 

en soms

as ek

versplinter

en soms as ek verdwaal

en soms as ek in helderheid

weer ewewig behaal

 
en soms

as ek

met moeite

en soms as ek vanself

deur die stuheid van my oumensvel

weer kinderheid kan delf

 
dan teken ek ‘n prentjie

dan mengel ek ‘n kleur

wat die swarttend-wittend-stippendheid

van grootmensgif verweer.

Raklewe

08:26 09 August in Rym
0 Comments

Toe my siel nog daarbo

in U klerekas gehang het

in die hoop om op aarde gedra te word

toe U hand daardie reling noukeurig deurgeblaai het

op soek na ‘n gees wat ‘n menslyf kort.

 

Toe U oogspan my wese

vir ‘n tweede keer bekyk het

my lapwerk oordink,

en my nate platgestryk het,

toe U hoogwoord my versmelt het

tot die liggaam wat ek dra

deur die lieslood van my vader

na die baarskoot van my ma.

 

Toe my asemwerk gevleg is

toe my oë die eerste keer

verbysterd en oorweldig

teen die helder wou verweer:

 

was U deurgans in U deernis

vol vertroue dat my weef

‘n lewenslange dratyd

hier op aarde sou oorleef?