Die lewe is te groot vir my
ek krimp verby die seker
lê dorrend aan die uitloopkant
van ‘n onvoorsiene beker
die oopte is te veel vir my
die aarde agressief
en ek weer pleitend dobberend:
“God red my asseblief!”
Van jaag kom val
en val is seer
verby die nerfplek ingeskeur
van buig kom breek
en breek is wreed
verby die terugdraai uitgemeet
van veels te veel is alles min
die tyd is ryp vir herbesin
van meer en meer is almal op
die klokslag slaan vir stil
vir stop.
Toe die wêreld op ons neergesak het
met die doel om te begrawe
en ons bestaansreg in kom krimp het
na die silhoeët van slawe
Toe die massas haastig aangemeld het
gereeld om saam te grou
en die ophoop van hul haatwerk ons
ter aarde toe sou vou
Toe ons nie kon verweer nie
toe die swaarheid neer sou sak
en ons uitgesmoorde asems
tot stoflikheid sou knak
het die wêreld nie geweet nie
sou hul almal spoedig leer;
dat ons binnekante sade was
wat in blomtyd oop sou beur.
*Na die Meksikaanse spreekwoord: “They tried to bury us, but they didn’t know that we were seeds.”
We move and breathe in inches
lapses of life pushing out
drawing in
expanding from the now to the next
in short and subtle shatters.
We move and breathe in inches
methodic moments counting out
crushing in
moulding the not to the nearly
in fierce and fleeting fractions.
We move and breathe in inches
for life lives in-between
the plans
the paths
the patterns
the shadows and the seen.
We are moving breathing inches
our smallness shapes the way
and God he grows
he gathers
the dartings of each day.
Trippe trappe tone
die lewe is ‘n dans
die eerstes gee die ritme
die ander kry ‘n kans
wat alles wat verbeter het iemand eers gepla
(daai stoel wat jy so vol sit is gister ingedra)
trippe trappe tone
die massas repeteer
die jonges is ontwakend
en die blinkes propageer
want alles wat ontwikkel het iemand uitgetoets
(daai kar wat jy nou rondry was gister nog ‘n koets)
trippe trappe tone
ons voete bly beweeg
vernuwing vra ontwrigting
uit die hand van ‘n strateeg.