November 2015

Teetyd

06:02 30 November in Rym
1 Comment

Berei jou brein soos ‘n koppie tee

tot al die dele bots

en jou blaarwerk deur die kokendheid

aromas uit kom klots

 

laat staan die dink om goed te trek

gee hitte,  gee ook tyd

skep die stokkies en die sakkie

voor die laaste skinkslag uit

 

pak ‘n skinkbord van verwagting

werk versigtig met die pot

gooi jou kopwerk in die ooptes

vir verkwikking vir genot

 

drink tevrede

sit ontspanne

kyk die diere kyk die dag

en more weer die dorsheid:

‘n nuwe teemaakslag.

 

 

Alles

16:14 17 November in Rym
0 Comments

Van alles wat al ooit

gekom en weer gegaan het

van alles wat ontvou

van alles wat behaag

 

van alles wat al ooit

gepiek en weer geplat het

van alles wat ontduik

van alles wat vervaag

 

van alles wat ontwikkel

in ewigheid sal groei

van alles wat versirkel

op aarde uit mag bloei

 

van alles wat in ooitheid

‘n oomblik mag bestaan

bly net een alles groter

as al die alles saam.

Uitgelewer

20:41 10 November in Weeskinders
1 Comment

Jy my kind,

wat met jou oë so wawyd oop gebore is

en alleen die vloek en die seën van jou sienendheid op aarde bly uitsweet

 

jy my kind

met die waterheid van jou gedagtes

wat so dorstig driftig deur al die mensdom se onmoontlike dinkspasies  bly delf

 

jy my kind

met die murglikheid van jou klokwerk

wat so oopkoord lewendig in jou binnewerke vas bly brand

 

vir jou bring ek al die asems van een leeftyd se uitblaas

ek stapel al my weet van hierdie wêreld in sagte bollings op

ek gooi my hart uit as ‘n vangnet vir verlossing

en ek klem my vuiste

in  vasberade

hoopvolle

verbetenheid vir jou vas:

 

God!

Bewaar my kind

bewaar my kind teen die  las.

Windkrag

14:35 09 November in Rym
0 Comments

En ‘n groot rumoer het opgestook

ingerol en uitgekook

taai geword en vasgeplak

teen ‘n mensehart se stokkiesdak

 

maar ‘n harde wind het opgesteek

sterk gegroei en uitgebreek

jaloers geword en opgedaag

om die nuutheid uit die huis te jaag

 

en die kooksel wou nog klou

maar die blaas krag was te sterk

een rukkende verlossing

teen taai verwoestingswerk.