July 2016

Fondasie

19:58 05 July in Rym
0 Comments

​’n Murmer
‘n rookwolk
‘n flikker
‘n verdwaal
dinge wat verskilfer
dinge wat herhaal
 
‘n omdraai
‘n wat-as?
‘n wegkyk
‘n onthou
woorde wat verwilder
woorde wat nog wou
 
as ek en jy deur al die dans
deur al die trap en tref
ons stemme as ‘n stilte
as ‘n hongerheid verhef
as ek en jy met skoene
as ek en jy ontbloot
deur die opdraend van ons hobbels
en die bakhand van ons brood

‘n pad kan vind wat reguit lyk
‘n pad kan vind wat stop
in die middel van die malligheid
van hart en hoop en kop
 
‘n plek kan vind met harde grond
‘n plek kan vind vir spit
sal ek en jy ‘n spoghuis bou
om saggies in te sit.

Stroom

06:57 03 July in Rym
1 Comment

​In die middel van die oopte

in die veld

in die vlak

waar die son en sy brand oor die aarde bak

op die plat van die klippe

sit ‘n akkedis

onwetend dat dit somer is

 

in die hang van die hemel

in die oop

in die blou

waar die uitkyk wyd oor die aarde vou

in die stroom van die wind

dryf ‘n arendsveer

onwetend dat hy terug sal keer

 

na die trek van die aarde

die die val van die vloer

waar die in

en die uit

van ons asems roer

na die glip van seisoene

wat onbewus

aan groter reëls gebonde is.