Tuin
09:39 05 October
in Rym
En toe het daar ‘n binneblom
uit my hart se hoop gebind
sy pad as saad
in mikromaat
na my lendelyf gevind
en daar het hy ‘n wortelloot
in my kweekhuis uitgeskiet
sy lyf gestrek
hom uit kom rek
in my eva’s grondgebied
en nou is ek ‘n bedding
word uitgespit, geploeg
my hart is hoog en hoopvol
my lyfie worstelwroeg
en die blom groei sterk en stadig
maar sy reuk is reeds só soet
en sy mamma wag geduldig
om haar grootseun te ontmoet.