December 2019

Prentjiemooi

08:25 10 December in Weeskinders
3 Comments

Dit was nie idillies of romanties  toe ons ons huweliksherdenking in verskillende lande spandeer het nie

ons het geen filter-fotos van die aand toe ons seun in die hospitaal opgeneem is en ons hom tot in die ounag
moes platdruk en medisyne bly ingee het nie

die vuil wasgoed en skottelgoed en leë bokse en speelgoed en rekenaar en selfoonkabel en biblioteek-kaart
in ons kombuis is glad nie kunstig óf keurig gerangskik nie

jou enigste werksbroek met die klein skeurtjie op die boud, en my heeltyd-jeans, halfskoon-tekkies en truie
sal geen Pinterest bord of mode-blog haal nie

Maar jy het my daai oggend op pad Switserland toe gesoen en gesê jy gaan my mis
en ek het jou geglo

en toe ons kleinman uiteindelik ontslaan word en ons  op ‘n suurkots matras sonder beddegoed moes slaap
was ons albei so dankbaar en verlig

die naweek gaan ek hopelik tyd kry om weer huis skoon te maak
en dan lyk die kombuis weer stukke beter

daarna moet ons asseblief winkel toe gaan
om vir jou ‘n nuwe broek te soek, en skoene ook nou dat ek daaraan dink

Want jy is my man
en ek is jou vrou
en ek is so regte lewe lief vir jou.

KAKTUS

09:57 01 December in Rym
2 Comments

Die skerp stukkies in die lewe:
die ongemaklike
die skewe
die snotsnik huil
die beenmurg moeg
die fokken-orit opgee sloeg

‘n Swaarkry seisoen
‘n uitplant aksie
vuilbek vloekend
hart in traksie
as oorlewings asem
hortend hyg
en moedhou denke
styflip swyg

Volgende keer
as jou winter blom
jou kromrug knak
jou miskraam kom
volgende keer
kan jy tog wel weet:

jy’t al skerper storms deurgesweet.