Weeskinders

Uitgelewer

20:41 10 November in Weeskinders
1 Comment

Jy my kind,

wat met jou oë so wawyd oop gebore is

en alleen die vloek en die seën van jou sienendheid op aarde bly uitsweet

 

jy my kind

met die waterheid van jou gedagtes

wat so dorstig driftig deur al die mensdom se onmoontlike dinkspasies  bly delf

 

jy my kind

met die murglikheid van jou klokwerk

wat so oopkoord lewendig in jou binnewerke vas bly brand

 

vir jou bring ek al die asems van een leeftyd se uitblaas

ek stapel al my weet van hierdie wêreld in sagte bollings op

ek gooi my hart uit as ‘n vangnet vir verlossing

en ek klem my vuiste

in  vasberade

hoopvolle

verbetenheid vir jou vas:

 

God!

Bewaar my kind

bewaar my kind teen die  las.

Opmerklik

10:20 22 September in Weeskinders
3 Comments

Is dit net ek, of lyk die meeste van die mense in Kaapstad of hulle drie dae terug gebad het, en moonlik glo dat wasmasjiene tuberkulose aanhelp?

(Nie dat ek noodweendig téén min bad is nie, maar dan moet jy minstens opgewonde daaroor wees en nie vuil én verveeld oorkom nie. Of hoe?)

Is dit net ek, of lyk die meeste van die jongmense in Kaapstad presies dieselfde met hulle verwese klere, dikraambrille en iPhone-oorfoonbelle onder vaalgroen beanies?

(Nie dat ek noodweendig téén dowwe klere, dikraambrille, iPhone gebruikers of vaalgroen beanies is nie, maar dan moet dit ten minste winter wees en jy arm, bysiende of in gesprek wees. Of hoe?)

“Is dit net ek wat sien, of is daar nog van ons?”   is die vraag wat vandag deur my kopwerk gons.

Verby die lugleegte

13:10 05 June in Weeskinders
2 Comments

As ek jou weer sien

en jy begin praat oor die weer

werkstres

of jou kinders

gaan ek my hand op jou bors sit

direk in jou oë kyk

en jou mooi vra om eers te stop

nie omdat ek nie ook koudkry

stres oor ‘n deadline

of dink die kleingoed is dierbaar nie

maar oor ek bekommerd is oor die groewe wat ons en ons bolangse geselsies begin uitkerf

 

 

As ek jou weer sien

en ek vra jou uit oor jou nuwe toppie

daai Facebook clip

of die rugby telling

stop my asseblief

sit jou hand op my bors

kyk my in die oë

en vra my om eers te stop

nie omdat jy my nie wil vertel waar jy dit gekoop het

ook die clip geniet het

of nie die telling weet nie

maar omdat jy ingestel is op die gewig van dinge , en eerder wil weet waarom ek Sondag in die kerk so hard gehuil het

 

 

As ons mekaar weer sien

en ek vra uit

omdat ek regtig wil weet

en jy antwoord rou

want die waarheid is welkom

sal dit nie wees omdat ons ‘n kuiertjie vasgemaak het

by dieselfde partytjie opgedaag het

of albei se Skype liggies groen was nie

 

dit sal wees omdat ons bly werk aan kýk,

aan ráák

aan dit wat werklik saakmaak.

 

As ek en jy mekaar weer sien.

Van hartsgeheime en tydsgordyne

15:23 31 May in Weeskinders
2 Comments

Jou hart het lankal geweet

toe jou kop nog nie kon klank nie

moes leer hoe om jou potlood met drie vingers vas te hou

nog die bladsy van die lyntjiesboek bewerig probeer natrek het

 

jou hart het lankal geweet

toe jou kop tot tien, twintig, twee honderd leer tel het

gesnap het oor die links strepie van ‘n b, en die regs strepie van ‘n d,

later self die hasie ore van jou veters vas kon knoop

 

jou hart het lankal geweet

terwyl jou kop maal tafels gememoriseer het

kissing touchers op die netbalbane gespeel het

marmite broodjies op die pawiljoen geëet het

dirigente in hul shoeshine tekkies bewonder het

 

jou hart het lankal geweet

terwyl jou kop gemaklik moes raak met die vreemdheid van hoërskool

die selfvertroue van matrieks

vriende, vakke en space-case keuses moes maak

en soms op siwwie dae cool gevoel het

 

jou hart het geweet

terwyl jou kop universiteit toe is

ontdek het daai girl se notes is beter as die handboek

tot vier uur die oggend gekuier het want die vibe was net só lekker

en daai ou was net só snaaks

 

jou hart het geweet

toe jou kop met koorsige godsdienstigheid verlig het

briewe vir God geskryf het

vir die eerste keer verstaan het hoe die wêreld werk

en hoe alles opgelos gaan word

 

jou hart het steeds geweet

toe jou kop die politiek van ’n kantoor moes navigeer

werksplek woorde van kollegas moes ontsyfer

besef het dat boelies op skoolbanke en agter emboya lessenaars sit

en die soet beloning van eie geld kon ontdek

 

jou hart het geweet

toe jou kop begin twyfel het in die perfektheid van sommige kerkmense,

jou idees, en dáái verhouding,

begin besef het dat dinge buig

en alles nie voorspel, beheer of verduidelik kon word nie.

 

Jou hart het heeltyd gewéét

terwyl jou kop sporadies moes ontdek:

die lewe is ‘n groot onmoontlikheid

wat verby verstaanbaar strek.

Met laaste lig

14:47 06 March in Weeskinders
0 Comments

Terwyl jy nog hier is
terwyl jy nog nie slaap nie
blaas ek die waarheid van my woorde as hooglied
oor jou klein,
jou kwynende kers

ek besef dat my stem later steeds hoorbaar sal wees
maar slaap het ‘n manier om wie ons is te verskadu
met die vonnis dat ons dit slegs vir ‘n wyle was

en jou lig
jou liefste lig
verdien geen vorm van verdowing nie

terwyl jy nog hier is
terwyl jy nog nie versmelt het tot slaap nie
omring ek jou in dringende teenwoordige tyd
kom skreeu jou lof die hemele uit

Luister berge
luister!
ek het nodig om te wéét ek is gehoor

die groot slaap dreig op die drumpel
om haar sagte lig te smoor.

Primitief

08:34 26 February in Weeskinders
0 Comments

Ek sou ook graag
in een waansinnige oomblik
uit wou bars en versplinter
in skerp stukkies van al die mense wat ek nooit wou wees nie

myself ontmasker
as agressiewe
kwaadwilligge
onbeheersde
primitiewe
mens

ek sou ook graag
in een rooi oomblik
my stemspies wou slinger
gespys met gifprikwoorde
as laaste ete
van my skoon gewete

ek sou ook graag
deur tyd wou reis
myself verstaan
of vlieg

dis dieselfde waas onwerklikheid
dis dieselfde lawwe lieg.

Woordkuns

07:43 28 November in Weeskinders
2 Comments

As ek woorde gehad het sou ek hulle versigtig optel en in my hande toevou.

Ek sou op sagte tone stap, my asem effens ophou, en stadig beweeg. Ek sou ‘n skrefie in my hande moes oophou om seker te maak hulle kry genoeg asem, en ek sou hulle fyn fyn dophou. Die op…en af…en op…en af van hulle kleinlyfie asems. Hulle oop bekkies. Rustig, veilig en vol vertroue in my hande.

Ek sou hulle tot by die voet van jou bed dra, en eers ‘n rukkie stilstaan om jou slaaplyf en skouers so diep as moontlik in te asem. Dan sou ek my woorde sag-sag-saggies by jou in die bed tel, en die komberse regtrek sodat julle almal warm en gemaklik verder kon slaap.

Die kleintjies sou instinktief teen jou lyf nessie, en hul vlerkies snoesig opdons teen die hitte van jou vel. Soos wat kinders graag doen.

Ek sou julle almal vir een laaste sagte oomblik met die arms van my oë vasdruk,en dan sou ek omdraai. En ek sou wegstap.

Want as ek sou omkyk sou ek dalk sien hoe jy omrol. En my woorde, my kleinstes, my kinders doodlê.

Sommer so in jou slaap.

As ek woorde gehad het…

The smile

16:03 15 October in Weeskinders
0 Comments

I was moody that day, and too irritated to ask myself why. Constantly biting back the sharp things my mind produced, begging to be flung at everybody who crossed my path.

I attended all my meetings, won every argument, and quickly lost what was left of myself. By lunchtime even my shadow was long gone. It’s science you know? They leave with the light. Some things are wonderfuly predictable that way.

My anger marched ahead like a forcefield. Demanding to be known, to be felt. Gripping its jaws around every inch of calm or kindness, craving the rip. The scream.

The wake of my resistance set the pace. Drumming out an angry rhythm, and I was determined to follow. Giving myself willingly. Wildly. Screaming at every inch of every thing. Even outraged at the audacity of the air that would dare to touch me without granted permission.

I arched my back, threw my head, and hurled my rage towards the sky. Begging the world for battle!

And that was the moment when, by some miracle, I noticed Him.
Smiling at me. Of all things.

Smiling!

Showing me kindness. Loving on me. Beaming the warmth of His eyes across my every inch. Unaffected by my… well, by me. Living beyond the reach of change. Even mine.

In the days there after I would encounter His smile just as I did in the days before,but the specific shade of THAT smile has been warming my heart and cooling my fear ever since.

You see – He is unafraid. Even of us.