Fondasie

19:58 05 July in Rym
0 Comments

​’n Murmer
‘n rookwolk
‘n flikker
‘n verdwaal
dinge wat verskilfer
dinge wat herhaal
 
‘n omdraai
‘n wat-as?
‘n wegkyk
‘n onthou
woorde wat verwilder
woorde wat nog wou
 
as ek en jy deur al die dans
deur al die trap en tref
ons stemme as ‘n stilte
as ‘n hongerheid verhef
as ek en jy met skoene
as ek en jy ontbloot
deur die opdraend van ons hobbels
en die bakhand van ons brood

‘n pad kan vind wat reguit lyk
‘n pad kan vind wat stop
in die middel van die malligheid
van hart en hoop en kop
 
‘n plek kan vind met harde grond
‘n plek kan vind vir spit
sal ek en jy ‘n spoghuis bou
om saggies in te sit.

Volgende Inskrywing
Vorige Inskrywing
Mia Smit

Mia Smit

meerkatkind@gmail.com
No Comments

Post A Comment