Ek bou ‘n huis uit strootjies:
die ooglopende trek van lootjies
kaarte gekies
kaarte gedeel
kanse gewaag
en kanse verspeel
wat mettertyd die paaie pak
waar my lewensspore neer kan sak
Ek bou ‘n huis uit foute:
bekommerd en benoude
lesse geleer
lesse gedop
liefdes probeer
en liefdes gestop
wat kollektief die stene sterk
vir die holtes van my binnekerk
Ek bou ‘n huis uit tyd:
werk my heil en helsvrees uit
God ontdek
God gebreek
goed gevind
en goed versteek
wat almal saam my legkaart pas
verligting teen die lewenslas
Ek bou ‘n huis uit rus:
veilig,warm, knus
herberg-heilig
vormfyn
plek van water bloed en wyn.
Amazing!