Om te onthou

05:11 21 July in Weeskinders
2 Comments

Ek stap by die kantoor uit na ‘n wrede Woensdag. Die soort dag wat jy so gou as moontlik so ver as moontlik agter jou wil sit.

Ek klim in my huurmotor, gespe vas, draai die sleutel, en niks. Geen liggie, geen geluid en absoluut geen reaksie. Dis donker, dis winter, en Avis antwoord nie hulle hulplyn nie. Ek bly rustig, en gesels tussendeur met die Here: “Dad, ek weet U gaan help, maak asseblief ‘n plan.”

‘n Oom stap nader, kommandeer ‘n span manne op en hulle probeer die kar aan die brand stoot.  Hy stap Game toe om “jumper” kabels te koop maar hulle deure is reeds toe. Ons vind uiteindelik ander kabels,  maar dit maak absoluut geen indruk op my motor se masjienwerke nie.  Niks, niks, niks. Drie probeerslae en ek is uit.

Uit ‘ n ryding uit, uit asem uit, en nou ook uit planne uit.

“Ek woon in die dorp langs joune, en moet in elk geval daar verby ry oppad huis toe. Ek sal jou gaan aflaai,”sê die oom. My blyplek is drie dorpe verder, so stap is nie ‘n opsie nie.  Ek registreer rustigheid in my hart dat hy die antwoord op my gebed is, los die dooie kar oornag in die parkeer area, en klim by hom in.

Ons raak aan die gesels en sy storie ontvou. ‘n Hardwerkende pa met vier dogters, en na ‘n tragiese ongeluk laas jaar is hulle ‘n gesin minus ‘n mamma. My hart gaan uit na die man wat in die middel van sy eie seer lank genoeg in ‘n parkeer area stil kon staan om die nood van ‘n vreemdeling raak te sien.

“Here, hoe sê ek dankie? “vra ek benoud. “Woorde is nie naastenby genoeg nie, en ek kan nie vir hom geld aanbied nie, maar die dankbaarheid in my binneste is te swaar om deur die klein gaatjie tussen my lippe uit te lek.  Help my asseblief om dit uit te kry! “

‘n Driekwartuur later stop ons by my gastehuis.  “Baie baie dankie ” hoor ek myself vir die soveelste keer sê, maar steeds voel dit nie genoeg nie. Hy groet vriendelik, klim in sy kar en begin stadig weg te ry. “Wag!” skreeu ek skielik en gryp sy arm deur die venster. “Kan ek asseblief vir jou bid?” Ja, antwoord hy sag.

En ek bid. Ek bid asof hy die laaste mens is vir wie ek ooit gaan bid.  Raak sommer aan die huil, en vra my Pappa God om asseblief vir die oom so goed te wees soos wat hy vir my was. Om in sy elke behoefte te voorsien en hom te help waar hy hulp kort.

Later die aand lê ek en wonder waarom die hele situasie my so diep geraak het. Hoekom wou ek so graag hê dat God my gebed vir hierdie vreemdeling moes verhoor? “Want hy’t jou gered uit ‘n situasie waar jy nie self kon uitkom nie, en jy was opreg dankbaar” antwoord die klein stemmetjie in my.

Na vanaand het ek ‘n nuwe gebed. “Here help my om te onthou wat U vir my gedoen het, en om regtig dankbaar te bly. Nie net met my kop nie, maar met my hele hart en my hele siel. Amen.”

Volgende Inskrywing
Vorige Inskrywing
Mia Smit

Mia Smit

meerkatkind@gmail.com
2 Comments
  • Cornel 07:14h, 21 July Reply

    Love dit. wow.

  • Truda Turner 15:19h, 12 October Reply

    Dis pragtig Mia!Ek het jou pa op die 300 myler uithourit ontmoet.Wat n pragtige “oom”.

Post A Comment