Draaiboek
Binne en buite
ons deure en ruite
huise en erwe
lande se skerwe
draai dieselfde aarde om en om
en die mensdom staan vreemd verstom:
Die groot goed lyk anders
die klein goed trek skeef
ons planne bedonnerd
gesondheid verweef
regerings op aandag
horries op hol
en die aarde bly steeds tol en tol
Party werk soos miere
ander raak stil
sommiges oefen
ander bly dril
hierdie een huil net
daardie een skree
my kleinneef in Brakpan rook breakfluid en tee
Binne en buite
ons verstaan en ons planne
sit hierdie ding duidelik in almal se hande
almal se harte
almal se lywe
se werke en kerke en eenmanbedrywe
En die aarde draai
en die mense stop
die groot mallemeule is volgeprop
dit draai om en om
vir ‘n groter kyk
hoe ons binne-buites regtig lyk.