Teetyd
Berei jou brein soos ‘n koppie tee
tot al die dele bots
en jou blaarwerk deur die kokendheid
aromas uit kom klots
laat staan die dink om goed te trek
gee hitte, gee ook tyd
skep die stokkies en die sakkie
voor die laaste skinkslag uit
pak ‘n skinkbord van verwagting
werk versigtig met die pot
gooi jou kopwerk in die ooptes
vir verkwikking vir genot
drink tevrede
sit ontspanne
kyk die diere kyk die dag
en more weer die dorsheid:
‘n nuwe teemaakslag.