We’ve noticed
how hard
you’re trying
to appear as if you’re not trying at all
it’s okay,
we won’t share what we’re seeing
we’ll just be here
when you fall.
Die plaas se naam was “Twyfeling”
ek het
dit vreemd
gevind
dat die boer ‘n ongemaklikheid
as pleknaam vas sou bind
nie vreemd soos ‘n fout
of vlek nie
meer vreemd as skaars
of heilig
‘n kwesbare verklaring:
“Ek verander,
ek’s onveilig.”
Die plaas se naam is Twyfeling
ek wonder hoe als sou wees?
as mense se ontberings
nes bordjies uit kon lees:
“Hartseer”
“Kwaad”
“Vertwytend”
“Vergete”
“Vals”
“Vervreemd”
“Strydend”
“Soekend”
“Sterwend”
“Ontnugter”
“Op”
“Ontneemd”
Die plaas se naam is Twyfeling
ek’s nuuskierig oor die kinders
of die kleingeslag ook twyfelend
illusies wil verminder?
Deur oop en eerlik swak te wees
gemaklik en gereeld
terselfdertyd hul sterktes ken
trots en onverdeeld.
Die plaas se naam is Twyfeling
ek ry gereeld verby
dan sug ek aan die binnekant
want daar’s twyfelbloed in my.
As ek jou weer sien
en jy begin praat oor die weer
werkstres
of jou kinders
gaan ek my hand op jou bors sit
direk in jou oë kyk
en jou mooi vra om eers te stop
nie omdat ek nie ook koudkry
stres oor ‘n deadline
of dink die kleingoed is dierbaar nie
maar oor ek bekommerd is oor die groewe wat ons en ons bolangse geselsies begin uitkerf
As ek jou weer sien
en ek vra jou uit oor jou nuwe toppie
daai Facebook clip
of die rugby telling
stop my asseblief
sit jou hand op my bors
kyk my in die oë
en vra my om eers te stop
nie omdat jy my nie wil vertel waar jy dit gekoop het
ook die clip geniet het
of nie die telling weet nie
maar omdat jy ingestel is op die gewig van dinge , en eerder wil weet waarom ek Sondag in die kerk so hard gehuil het
As ons mekaar weer sien
en ek vra uit
omdat ek regtig wil weet
en jy antwoord rou
want die waarheid is welkom
sal dit nie wees omdat ons ‘n kuiertjie vasgemaak het
by dieselfde partytjie opgedaag het
of albei se Skype liggies groen was nie
dit sal wees omdat ons bly werk aan kýk,
aan ráák
aan dit wat werklik saakmaak.
As ek en jy mekaar weer sien.
Jou hart het lankal geweet
toe jou kop nog nie kon klank nie
moes leer hoe om jou potlood met drie vingers vas te hou
nog die bladsy van die lyntjiesboek bewerig probeer natrek het
jou hart het lankal geweet
toe jou kop tot tien, twintig, twee honderd leer tel het
gesnap het oor die links strepie van ‘n b, en die regs strepie van ‘n d,
later self die hasie ore van jou veters vas kon knoop
jou hart het lankal geweet
terwyl jou kop maal tafels gememoriseer het
kissing touchers op die netbalbane gespeel het
marmite broodjies op die pawiljoen geëet het
dirigente in hul shoeshine tekkies bewonder het
jou hart het lankal geweet
terwyl jou kop gemaklik moes raak met die vreemdheid van hoërskool
die selfvertroue van matrieks
vriende, vakke en space-case keuses moes maak
en soms op siwwie dae cool gevoel het
jou hart het geweet
terwyl jou kop universiteit toe is
ontdek het daai girl se notes is beter as die handboek
tot vier uur die oggend gekuier het want die vibe was net só lekker
en daai ou was net só snaaks
jou hart het geweet
toe jou kop met koorsige godsdienstigheid verlig het
briewe vir God geskryf het
vir die eerste keer verstaan het hoe die wêreld werk
en hoe alles opgelos gaan word
jou hart het steeds geweet
toe jou kop die politiek van ’n kantoor moes navigeer
werksplek woorde van kollegas moes ontsyfer
besef het dat boelies op skoolbanke en agter emboya lessenaars sit
en die soet beloning van eie geld kon ontdek
jou hart het geweet
toe jou kop begin twyfel het in die perfektheid van sommige kerkmense,
jou idees, en dáái verhouding,
begin besef het dat dinge buig
en alles nie voorspel, beheer of verduidelik kon word nie.
Jou hart het heeltyd gewéét
terwyl jou kop sporadies moes ontdek:
die lewe is ‘n groot onmoontlikheid
wat verby verstaanbaar strek.
Hierdie is my ma
wat meer as net my gene dra
hierdie is my mens
wat gedoek het, gedra het
geleer het, gevra het
gewys het, geslaan het
met hart en siel ge-ma het
hierdie is my ma
wat betaal het en bespreek het
as ek skeeftrek of gebreek het
wat gebroodjie en gesing het
‘n regte huis gebring het
hierdie is my ma
Elsjé Magdalena voorheen Uys
jy het my so mooi gewys
mamma is ‘n sagte woord
wat in elke huis en hartklop hoort
Hierdie is my ma.
As God Sy roes oor die wingerd drup
in rooi-oranje repe
en die geelbruin bars in spatsels uit
voortvarend en verbete
As die blare, bome, pruimboordbas
vervorm en vervou
in skakerings van omwenteling
wat ‘n heiligheid inhou
As die son sy sakwerk vroeër bring
om die heuningdans te doen
en my hart bly vra om nóg te kyk
hoe die die lig die landskap soen
Is ek dankbaar vir verandering
bewonderend bewus
dat die skoonheid van versirkeling
op die alledaagse rus.
“As a
dan b
maar wat van c,
as d en e
hul invloed gee?”
Somme het formules
voorspelbare skedules
maar die hart se hoort
tel anders op
totale van die lyf én kop
word opgelyn na gier en wens
tot die somwerk aan onmoontlik grens
dan opgedeel deur tyd se tik
en uitgemaal na Godsbeskik
as die syfers dan hul vorm vind
na die reistog van verdamp-herbind
miskien dan daar
kleinmoontlik dan-
kan liefde aan die groot klok hang.
Die onthou bly ontwyk
soos vervaagsels in die wind,
wat poeierfyn onmoontlik
weer vastigheid kan vind.
Die hoop
die hoop
beskaam nie
al ons kinders kom steeds groet,
maar Pa is slegs ‘n skynsel
van sy vroeërtydse gloed.
Ingedop
kom jy aangesleep
tuin terroris met jou silwer sweep
uitpeuloë op ‘n draadloos steel
jou slymlyf glibstip spoor
glim bultend randend klippend sandend
groot gebergtes oor
so stadig
seker
stil
sekuur
die sleepwerk van jou etensuur
is haas onmoontlik imposant
jou wondervraat
jou watertand!
*met dank aan Ru vir die inspirasie.
Die ploeg staan reg om die grond te skeur
die veld is vasgebak
maar die reën hou terug met sy nat, sy neer
laat die oopbreek stadig, swak
Die vosperd wag gedweë, gereed
om sy sweet al slepend uit te meet
maar die plaasboer kén die regte tyd
sit nog ‘n dag geduldig uit
En die werkers raak onrustig
want die saad moet spoedig in
daar’s ‘n tyd vir wag vir beter
en ‘n tyd om te begin
en die ploeg staan reg
en die reën hou terug
en die boer kyk op
en die werkers sug
want die perd staan rond
op harde grond
en die saad lê stil
teen die hand se wil
Sien:
gereënde grond is beter
maar geleende tyd raak op
is die toegeverfde uurglas
versadig
of verstop?
Ons is ingerygde krale
ons binnes uitgeboor
geanker deur ons leemtes
teen die valheid
van verloor
die leegtes bied ‘n vatplek
vir die stopnaald om te string
heg ons saamgesnoerde holtes
tot noue binnekring.
When last did you tell anyone
you were sorry
about anything?