DIE BUITELYNE VAN MY STORIE

Ek het in Westonaria grootgeword – ‘n klein myndorpie in die Wesrand, en kon reeds op 3-jarige ouderdom die verskil tussen ‘n mullet en mohawk uitwys. My ouers, albei onderwysers, het my voor skool al aan die wonderlike wêreld van boeke voorgestel en my liefdesverhouding met woorde sou altyd sentraal bly tot my storie.

Naweke en vakansies het ek my skoolskoene uitgeskop en buite op Kareeboskuil gespeel – ons familieplaas naby Leeudoringstad. My kleintyd-avonture was ingekleur met rooigrond, meerkatte, perde, plaasdamme, Brahaman beeste en ander skakerings van die buitelewe. Elke kenskop kind se droom.

Na skool het ek my grootmensvoete in Europa gevind, deur klein werkies in hotelle te doen, en my pad deur 12 lande gevleg. Mettertyd was skottelgoed-was en Guinness-skink egter minder wonderlik en teen einde 2003 het ek my rugsak vir die laaste keer gepak. Terug in Suid Afrika het ek Stellenbosch selfvoldaan binnegevaar met ‘n kar vol klere en ‘n hart vol planne. Slaggereed vir die studentelewe en diep dankbaar om terug in die suide en die son te kon wees.

Die Boland  het my goed behandel en teen einde 2003 het ‘n ietwat ouer en wyser Mia graad gevang. Ek het vir ‘n jaar in Kaapstad gekuier om my nagraadse studies in advertensiewese by Red & Yellow te voltooi, en die kleurvolle agterstraatjies en aandpraatjies van die Moederstad van naby leer ken.

Vir die volgende tien jaar het ek die korporatiewe leer geklim. Ek het leer somme maak, toesprake skryf, kop hou en besigheid bou.

Sy het geklim
en geklou
en geknaag aan die leer
maar die honger
in haar hart
na ontsnap
was meer

Teen vroeg 2014 kom dinge tot ‘n punt, en ek bedank. Op soek na avontuur en ‘n vryer weergawe van myself. Met die genade van God realiseer die droom in my hart en ek vind dit waarna my hart gehunker het. En soveel meer.

Ek vestig myself as vryskut bemarkingsstrateeg en skryf die boek wat nog altyd in my binnekant brand. Ek sny my hare, vind my voete en verken ons land. Ek leef. Met minder geld, meer tyd, en baie meer oorgawe. Wie nie waag nie…

Dis dan die stippels van my storie tot nou. En die toekoms? Wie sal presies weet, maar ek sien iets blink op die horison, en daar is hoop in my hart dat dit mooi is. Myne is.