keuses Tag

Leeg

07:17 29 July in Rym
0 Comments

Soms

is daar woorde,

maar ander kere is selfs die tydelike troos van ‘n woordkombers

my nie beskore nie

soos nou

met jou:

 

Tien jaar terug het ons gesit en gesels,

gedagtes gedeel oor jou ma

en die boosheid wat sy in haar bloed ronddra.

Jy was vol selfvertroue dat jy beter keuses sou  maak,

oorgehaal om jou kinders te sien grootword,

uitgesproke dat jy nie ook op ‘n vroeë oudag jou sien,

en jouself

glas vir glas sou uitskink nie.

 

Soms

is gesprekke genoeg,

maar ander kere is selfs die sterkste voornemens

nie voldoende assuransie teen later se skewe besluite nie.

 

Gisteraand het ek op jou hospitaalbed gesit

jou kop gevryf,

en bolangs gebid

dat jou seuns nie dieselfde storie sou skryf nie,

sou deel aan die kiem van kwaad in jou lyf nie.

 

Want soms

is medisyne genoeg,

maar ander kere skiet selfs die skerpste naald te kort

om ‘n laaste lewensflits raak te steek

die drif en die drang van die dood te breek

 

soos nou

in jou.

Kruispad kronkels

08:17 21 July in Rym
1 Comment

Daar’s ‘n vurkpad by jou voete

wakkerwetend as jy stap

begeerte is ‘n bliksem

wat dankbaarheid vertrap

 

daar’s ‘n weegskaal deur jou lewe

bakke beurend na die swaarste

is die volheid

of die leegheid

van jou lewensglas die waarste?

 

daar is keuses in jou uitkyk

oogoplettend as jy praat

ondankbaarheid se wortels

blom barstens uit in kwaad.