Van verlief wees

18:11 24 May in Weeskinders
2 Comments

Wat maak ‘n mens verlief? Wat presies bepaal of iemand in jou hart gaan kom wortel skiet, of net soos ‘n wind verby gaan waai? Hoe gou kan mens verlief raak,   en presies waarop raak jy nou eintlik verlief as dit so gou gebeur?

Partymaal is hulle baie mooi. Ander kere baie slim. Of interessant. Partymaal hou mens van hoe hulle praat, wat hulle weet, of hoe hulle jou laat voel. Meestal is dit ‘n kombinasie van hierdie dinge. ‘n Onvoorspelbare, onbeheerbare mengsel van menswees wat die vermoë het, die formule ken om jou hart se deurwag oor te wen.

Verliefdheid laat hom nie voorskryf nie. Nie deur ouderdom, lengte, breedte of enige ander mate van redelikheid, voorspelbaarheid of aanpasbaarheid nie. In die veld van verliefdheid kan alle grense geskuif word, struikelblokke oorkom word, en nuwe horisonne ingestorm word. Hier is alles moontlik.

Vanaand is ek verlief.

Sonder beplanning of bestemming.  Sommer net ‘n lekker wilde mal perd verliefdheid wat homself opgesaal het, en nou met my die heuwels van hoop en die dale van droom uitgallop. Op hom. ‘n Skugter vreemdeling, met ‘n sagte hart, en goeie vrae. Een wat in 4 ure my aandag kon arresteer en tot die punt van fassinasie frustreer. Wat salig onbewus die magneetveld van my hart binnegedring het met sy rustige houding en gemaklike individualiteit.

Die spreekwoord sê dat liefde blind is, maar ek vermoed verliefdheid is nie. Verliefdheid sien met ‘n enkel oog ‘n een dimensionele prentjie van al die mooiste, blinkste, vining opletbare goeie dinge in iemand anders raak. Die prentjie is dalk onvolledig, maar nie noodwendig verkeerd nie. Geen persoon het net goed in hulle nie, maar verliefde mense is tydelik geslaan, (of geseën?) met ‘n onvermoë om die sleg in iemand anders raak te sien.

Die Bybel sê dat God nie net lief is vir ons nie, maar ook verlief is op ons, en dit laat my dink. As ek na ‘n kort ontmoet-en-groet-kuier gister, vandag so baie aan my vreemdeling gedink het, hoeveel te meer moet ek nie heeltyd in God se gedagtes wees nie? Hy ken my dan al van my eerste oomblik af.

Dit verklaar ook Sy onvermoë om moeg te raak, weg te loop, of neer te kyk op my. Hy sien elke dag, heeldag, net die heel beste en blinkste in my raak.  Hy is versot op my, en heeltemal, sonder verdwaal, verduidelik of verskoning – verlief op my.

Volgende Inskrywing
Vorige Inskrywing
Mia Smit

Mia Smit

meerkatkind@gmail.com
2 Comments
  • jan d 21:19h, 30 May Reply

    Mia, hierdie is baie, baie mooi

  • BFAN 13:57h, 09 June Reply

    hEY MIA…JIS dit is laat middag by die Sentrum vir Voornemende Studente. En my hart het verlang vir tikkie soet in die bitter dag…dae. En hier..so random. Eers kry ek e-pos was vir Alexa aandui dat jy op haar facebook comment gelos het. Dan…vind ek my vingers vinnig kliek kliek…net om te sien wat jy moontlik na verwys…scroll down..en ta da- DIE WAARHEID. daar is min mense se woorde wie so soet…so rou…eerlik is…wat alles wat NEE is JA maak in my. Sho- this was my manna. Hierdie is die beste tipe stiltetyd. Thank You Father..

Post A Comment